Colette Lotz
BIOGRAFIE
Colette Lotz (neé Vosloo) is in 1971 gebore en voltooi haar tersiêre studies aan die Vaaldriehoekse Technikon (tans die Vaal University of Technology) waar sy verskeie merietetoekennings as student ontvang. Haar meestersgraad in Beeldende Kuns fokus op postkoloniale studies met klem op die werk van Penny Siopis. As kunstenaar het sy deelgeneem aan verskeie uitstallings. Sy het gedoseer aan die Vaal University of Technology en is tans ‘n dosent by die vakgroep Grafiese Ontwerp aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus, waar sy Illustrasiekuns aanbied.
PROJEK
Titel | Ons ‘Queen’ |
Medium | Digitale laserdruk |
Afmetings | 15 cm x 17 cm |
Uitgawe | 2 Kopieë |
Prys | - |
Die boek getiteld Ons ‘Queen’ is geïnspireer deur die koms van my eersgeborene, Danielle, op 10 Maart 2009. Die woord ‘Queen’ is ʼn grapnaam wat ek en my man gebruik vir haar omdat sy so ‘n belangrikte posisie in ons lewens ingeneem het: sy regeer!
Die boek is nie bedoel om ‘n bestekopname van haar “eerste dinge” te wees in terme van ontwikkeling en dies meer nie, maar is eerder ‘n subjektiewe blik op my persoonlike ervaringe: sukkel om swanger te raak, ‘n miskraam, die dood van my pa en uiteindelik swangerskap en geboorte van Danielle. In die boek is raampies wat die aandag fokus op die belangrikheid van gesinslewe, liefde en die gevoel dat jy iewers hoort. Die boomsimbool kom deurentyd voor en verwys beide na ‘n stamboom en die ontwikkeling van nuwe lewe, en word afgespeel teenoor beelde van my wyle pa. Deur die boek kom teenoorplasings voor van byvoorbeeld lewe en dood, vreugde en hartseer, en goeie en slegte ervarings
Die formaat is klein en weerspieël die diep intieme ervaring van lewe en dood, tesame met die ervaring van moederskap. Die persoonlike aard van die inhoud mag vir sommige ontoeganklik wees, maar die kyker wat soortgelyke ervarings gedeel het mag wel met die essensie daarvan identifiseer.
BEELDMATERIAAL


EMAIL THIS ARTIST