Kabous Meiring
BIOGRAFIE
Karen-Christine (Kabous) Meiring is reklamekoördineerder van onder meer kinderboeke by NB-Uitgewers. Sy is radiojoernalis vir RSG-Kuns, is die samesteller van Hardop, doen regie vir woordprogramme en is in die algemeen gek oor gesprekke oor kuns, kritiek en literatuur.
Sy doen die projek vir Oor die einders van die bladsy saam met haar pa, Hannes Meiring. Ruan Vermeulen en Christo Basson van Amicollective het ook ingespring en gehelp met die karakterillustrasies. Hannes Meiring is ‘n argitek, bewaarder van geboue en nou en dan kunstenaar. Kabous bly in Kaapstad en is lief vir dorpe, stede, brilrame, rockkonserte, die teater en galerye.
PROJEK
Titel | Nommer 14, Daaikantstraat |
Medium | Pen, ink, waterverf en digitaal |
Afmetings | Hardebandboek, 25 cm x 26 cm |
Uitgawe | Uniek |
Prys | - |
Oskar stap skool toe en bewonder die ou klubhuis met sy groot vensters en pragtige vensterbanke. Soms staar hy so na die mooi gebou dat hy vergeet om voor hom te kyk, wanneer dit gebeur moet hy oppas vir fietse, waterslote en groot lomp seevoëls. Dié einste seevoëls ken al vir Johannes en skud net hul koppe wanneer hul sien hoe diep ingedagte hy na die hardeware-winkel kyk, om nie eens te praat van die hotel op die oorkantste hoek nie. ʼn Pragtige ou hotel, met balkonne en stoepe. Veral die seevoëls is lief vir die stoep waar hulle ure kan sit en skinder. So begin die verhaal van algehele skok en heldhaftigheid, natuurlik, vir Oskar. Een oggend loop hy nog so kyk-kyk, en toe, terwyl hy breed glimlag, omdat die seelug so skerp is en dit hom laat dink aan wit mure waarop jy kan sit en suurlemoensap drink onder groen priële, roomys op die strand, ag sommer alles wat lekker is, sien hy niks. Niks! Nie oor hy oornag blind geword het nie, nee... die klubhuis is weg. Skoonveld.
Nommer 14, Daaikantstraat is ʼn verhaal wat doodgewoon gaan oor die sloping van geboue en vernuwing en die impak daarvan op ‘n samelewing. Dis ‘n kinderboek, omdat kinders weet wat hulle wil hê, hulle weet wat is mooi en onvervangbaar en hulle vat soms nie nee vir ʼn antwoord nie. Ons bewonder hulle daarvoor.
BEELDMATERIAAL