Louisemarié Combrink
BIOGRAFIE
Louisemarié Combrink het ‘n meestersgraad in Engels en Kunsgeskiedenis behaal by die Potchefstroomse Universiteit (tans die Noordwes-Universiteit) en het ook hier in skilderkuns en grafiese ontwerp studeer. Sy het gedoseer by die Vaaldriehoekse Technikon en by The Open Window School of Visual Communication, en is tans lektor in Kunsgeskiedenis by die Noordwes-Universiteit. Sy het aan verskeie groepstentoonstellings deelgeneem en was ook kurator vir ‘n aantal nasionale uitstallings. Sy werk met media soos skilder, installasies en fotografie en ontgin dikwels die osmose-moontlikhede tussen skeppende en akademiese dissiplines, en tussen visuele kunste en letterkunde.
PROJEK
Titel | Hidden narratives (name of series) Individuele werke: 1. Bloedblomme 2. Different ways of dying 3. An absence can keep you alive 4. Language surrenders 5. Opacities 6. Die onvertaalbares / Accidentally burnt as rubbish |
Medium | Perspex, boeke, emaljeverf |
Afmetings | 6 objekte, elk 22 x 25 x 12 cm |
Uitgawe | 1 |
Prys | R 1 800-00 elk, R8 800 vir die reeks |
Anne Michaels, in haar roman Fugitive pieces, sê “there’s a heavy black outline around things separated from their names” – met verwysing na ‘n vlugteling en digter/vertaler se soeke na betekenis in ‘n nuwe taal.
Omdat ons boeke lees en leef deur wat ons lees, soms in verskillende tale, ervaar ‘n mens boeke as oopmaakbaar, leesbaar, ontsluitbaar. Die ondenkbare: om ‘n boek nie te kan lees of oopmaak nie. “Hidden narratives” ondersoek ‘n perspektief op die boek wanneer die voor-die-hand-liggende lees nie moontlik is nie – die boek word ‘n artefak wat in vreemde terme beskou moet word: as ‘n voorwerp met liggaamstaal, ander assosiasies en versluierde betekenisse. Die ritueel van oopmaak en rondblaai, die tyd wat vloei en verbygaan met lees, word nou ‘n oomblik en ‘n narratief gestol in tyd: ‘n verlange. Hierdie eerste impuls van rondblaai word ook ‘n frustrasie: toegang word onmoontlik as gevolg van die geslote ruimte waarin die boek homself bevind en waar slegs vae refleksies nog vlakke van lees aandui. “Hidden narratives” speel met die gedagtes van die taal van teenwoordigheid en afwesigheid, van taalspronge en onvertaalbaarheid, en die oomblik wanneer taal homself oorgee en nuwe betekenisse vind.
BEELDMATERIAAL





