Leon de Villiers
BIOGRAFIE
Leon is lank-lank gelede in ʼn voorstad van Tshwane, genaamd Pretoria, gebore en was ook daar op skool en universiteit. Alhoewel hy ʼn honneursgraad in Politieke Wetenskappe behaal het, het hy tot op hede nog nooit iets daarmee gedoen nie, maar eers vir meer as ʼn dekade skoolgehou, voordat hy sy kinderdroom nagevolg en voltyds begin skryf het.
Na vele omswerwinge woon hy tans weer in Potchefstroom. Wanneer hy nie skryf of by ʼn privaatoord in die Vredefortkoepel uithelp nie, bied hy en Juanita Delaharpe-Coetzee kreatiewe werkswinkels aan.
PROJEK
Titel | Delikaat |
Medium | Buite- en binnebande |
Afmetings | Ongeveer 30cm x 20 cm |
Uitgawe | Uniek |
Prys | - |
Die titel van die boek, Delikaat, verwys na die inhoud van die boek wat bestaan uit twintig liefdesverse en gaan dus oor die broosheid van die menslike hart. Die inhoud is in sterk kontras met die boek self wat ru en grof is, net soos wat die uiterlike van mense soms ru en grof is, in kontras met hulle sensitiewe gevoelens. Die omslag is gemaak van plat stukke ongebruikte vragmotorbuiteband en die blaaie van ou gebruikte vragmotorbinnebande wat skoongemaak en in bladsyvorm gesny en met nylontou gebind is. Die boek van 5.5 kg is verpak in ʼn rooi geverfde tamatiekissie – die kleur van die liefde en die lewe. Die titel en die skrywersnaam is geskryf op stukke binneband geplak op geroeste metaal, en die handgeskrewe gedigte is in wit ink. Op die laaste binneband is ʼn skets van ʼn naakte mansfiguur met ʼn viool in die hand – die minnesanger wat sy afskeid neem.
Brood my saggies
my liefste botter-botter-bek,
bêre my binne,
bietjies-bietjies binne,
babatjie fyn,
breekbaar en broos.
Bondel my, brei my,
buffer my, bou my,
bossiekop, Berber,
breekbaar en broos.
Begeer my, beleër my,
baal my en bloei my,
bietjies-bietjies binne,
breekbaar en broos.
BEELDMATERIAAL