Marli Heunis
BIOGRAFIE
Marli is ʼn grafiese ontwerper wat tans besig is met haar MA in Ontwerp- en illustrasiekuns. Sy het onlangs haar BA in Grafiese Ontwerp behaal by die Noordwes-Universiteit. Marli se navorsing vir haar Meestersgraad fokus op Afrikaneridentiteit en illustrasiekuns.
PROJEK
Titel | Hier zijn Duivelen |
Medium | Gemengde media |
Afmetings | 25 cm x 25 cm |
Uitgawe | Uniek |
Prys | - |
Hierdie kunstenaarsboek vorm deel van ʼn gesprek oor Afrikaneridentiteit soos wat dit aan die hand gedoen word in André P. Brink se roman Duiwelskloof. Die boek is ʼn visuele interpretasie wat die gedaante van ʼn kaartboek aanneem. Daar is vier afdelings wat elk verskillende aspekte van die kunstenaar se ‘ondersoek’ na die roman asook haar eie visuele herinterpretasies uitbeeld. Die konsep van die werklikheid as konstruk waar identiteit tot stand kom word ondersoek deur met foto’s te speel om ʼn gesimuleerde werklikheid te skep. Die tweede afdeling van die boek fokus op die roman en word in drie lae verdeel: die omgewing, die nedersetting en die mense. Brink se gebruik van stereotipes word in die derde afdeling ondersoek deurdat die kunstenaar die mate van stereotipering deur middel van ʼn topografiese kaart uiteensit, waarin sy haarself ook gestereotipeerd uitbeeld. Die finale afdeling van die kaart stel die kyker dan in staat om sy of haar eie Duiwelskloof te bou deur die elemente deur die boek beskikbaar te stel in plakkers en ʼn agtergrond. Die kyker kan dan sy of haar stereotipiese vooropstellings toepas op die kunstenaar se stereotipes, en so deelneem aan die proses van identiteitskepping.
BEELDMATERIAAL