Meer oor die projek
Die uitstalling Oor die einders van die bladsy, vorm deel van ’n kreatiewe projek en transdissiplinêre ondersoek na die kunstenaarsboek en praktykgebaseerde navorsing. (Transgressions and boundaries of the page: a transdisciplinary exploration of a practice-based research project by means of the artist’s book.)
Die projek behels dat ongeveer 40 kunstenaars (skrywers, beeldhouers, grafiese kunstenaars, en persone uit verwante rigtings soos argitektuur en taaltegnologie), kunstenaarsboeke maak. Die boeke word in ’n groepsuitstalling opgeneem wat in 2010 by die Stellenbosch Woordfees en by galerye op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit en Universiteit van Johannesburg uitgestal word. ’n Katalogus en webtuiste (www.bookboek.co.za) vorm deel van die uitstalling en die projek.
Kunstenaars in die projek sluit in: Steven Bosch, Helene Botha, Jaco Burger, Ross Cleaver, Louisemarie Combrink, CTexT, Leon de Villiers, Stephan Erasmus, Leora Farber, Gordon Froud, Cheryl Gage, Franci Greyling, Suzan Grobler, Flip Hattingh, Roela Hattingh, Marina Herbst, Marli Heunis, Leti Kleyn, Jean Lampen, Colette Lotz, Danie Marais, Ian Marley, Claudette Maskell, Kabous Meiring, Hennie Meyer, John Myburg, John Moore, Khayalethu Mtshali, Meryke Naude, David Paton, Jo-Marie Rabe, Alwyn Roux, Paul Schutte, Jaco Spies, Richardt Strydom, Strijdom van der Merwe, Jan van der Merwe, Maggie van Schalkwyk, Diane Victor, Fanie Viljoen, Wessie van der Westhuizen, Cashandra Willemse.
Instansies wat deur die deelname van kunstenaars en navorsers betrek word, is NWU, UJ, UP, UFS, TUT, Vega, Open Window, Beeld.
Kunstenaarsboeke funksioneer buite die beperkinge van die uitgewersindustrie en is gebaseer op individuele kunstenaarsvisie, konseptualisering en uitvoering. Dit is dus die ideale medium om kunstenaars uit verskillende dissiplines te betrek by die spel met en ontdekking van die moontlikhede van die boek. Ons voorsien ’n groot verskeidenheid interessante kunstenaarsboeke wat lesers sal uitnooi om die boek as artefak op ’n kreatiewe manier te herontdek.
Die doel van die oorkoepelende navorsingsprojek is om ’n ruimte/struktuur te bied waarbinne kunstenaars hul kreatiwiteit kan uitleef, kreatiewe uitsette kan lewer en praktykgebaseerde navorsing kan onderneem.
Die projek maak voorsiening vir:
- Kunstenaars wat hul kreatiwiteit wil uitleef deur ’n kunstenaarsboek te maak;
- Kunstenaars wat oor hul eie kreatiewe praktyk navorsing wil doen;
- Navorsers wat oor die kreatiewe proses, konsepte en resultaat wil besin;
- Samewerking tussen kunstenaars en navorsers tot wedersydse voordeel van beide.
GEMEENSKAPSDEELNAME EN -ONTWIKKELING
Benewens die vlagskipprojek is daar ook ’n gemeenskapsfokus waar diverse groepe betrek sal word by aktiwiteite rondom boeke, skryf en boekmaak. Projekte word onderneem in samewerking met die Sentrum vir Kreatiwiteit en die ATKV Skryfskool, bestaande sentrums by die NWU met gemeenskapsprojekte en –skakels.
Twee kernprojekte is die Tambani Gemeenskapsprojek (Venda) en plaaslike skryf- en boekmaakwerkswinkels (Karos en Kambro).
NAVORSINGSKONTEKS
Kunstenaars neem dikwels deel aan interdissiplinêre kreatiewe projekte soos tematiese groepsuitstallings, skryfprojekte, podiumpoësie en “performance art”. Hierdie projekte word egter selde as navorsingsgeleenthede gekonseptualiseer of benut. Die projek Oor die einders van die bladsy / Transgressions and boundaries of the page, wil ’n ruimte bied vir kunstenaars en kunstenaars/navorsers om kreatiewe werk te lewer en terselfdertyd direk of indirek by navorsing betrokke te wees.
Praktykgebaseerde navorsing verwys na kreatiewe werk in ’n verskeidenheid dissiplines (beeldende kunste, grafiese ontwerp, skryfkuns, uitvoerende kunste) wat gekenmerk word deur kunstenaarspraktyk en kreatiewe uitsette. Hierdie navorsingstrategie en -metodologie word toenemend gebruik om individuele kreatiewe uitsette as navorsing te ontgin en oor kreatiewe werk te teoretiseer. Internasionaal word praktykgebaseerde navorsing ook gekenmerk deur gesamentlike projekte en die waarde van sodanige samewerking en navorsing word toenemend erken. Die UK Council for Graduate Education (2001) wys in die CPAD-verslag op die waarde van samewerking oor dissiplinêre en institusionele grense heen wat die ontwikkeling van praktykgebaseerde navorsing kan verhaas en tot oorspronklike werk wat dissiplinegrense oorsteek, kan lei.
In Suid-Afrika is die konsep van praktykgebaseerde navorsing nog in ’n ontwikkelingsfase en word tans vanuit verskeie perspektiewe gedebatteer, byvoorbeeld die kwessie van die erkenning van kreatiewe uitsette as navorsing. Dit is dus in die belang van praktykgebaseerde navorsing in Suid-Afrika om ’n interdissiplinêre projek te ontwikkel wat kan lei tot begrip vir samewerkende praktykgebaseerde navorsing, en ook kreatiewe individue kan bemagtig om hul praktyk as navorsing te formaliseer.
Transgressions and boundaries of the page: a transdisciplinary exploration of a practice-based research project by means of the artists book word as navorsing onderneem in die Navorsingseenheid: Tale en Literatuur in die SA Konteks en die voorgestelde navorsingsnis vir Visuele Kultuur by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Hierdie projek volg op die suksesvolle Op die Spoor van Kreatiewe Kreature-projek wat in 2007 en 2008 onderneem is. Die projekleiers en kurators word bygestaan deur ’n interdissiplinêre span uit verskillende instansies en dissiplines.
PROJEKTYDSKAAL:
- 2009: Projekbeplanning, werkwinkels, individuele kunstenaarsprojekte, gemeenskapsprojekte, webtuiste bookboek.co.za;
- 2010: Uitstallings by Woordfees Stellenbosch, NWU en UJ; digitale katalogus, dokumentering;
- 2011: Skryf van navorsingsbevindings, referate, artikels, simposium/kongres.
VERWAGTE NAVORSINGSUITKOMSTE:
- Uitstalling;
- Digitale katalogus ;
- Webtuiste vir projek – www.bookboek.co.za;
- Kongresreferate;
- Navorsingsartikels;
- Praktykgebaseerde MA projekte (Grafiese ontwerp);
- Konferensie/simposium.