Paul Schutte
BIOGRAFIE
Ek is sedert 1985 besig met tekstielwerke wat, weens die aard daarvan, aanvanklik as kwilte getipeer kon word en sedert 2000 as tekstielmuurbehangsels, oftewel “Textile Art” bekendstaan. Ek is deur my vrou in die tegniese aspekte ingelei en het myself deur lesings, leeswerk en werkswinkels van die estetiese aspekte vergewis. Ek is tans besig met werke rondom die tema bome, en het vir hierdie projek outobiografiese werke geskep met die uitgangspunt: Boom van my lewe.
Sedert 1992 en wanneer die tyd dit toelaat tydens vakansies, bied ek self ook klasse aan, onder andere al in Frankryk, Nederland, Duitsland en Nieu-Zeeland. Toekennings wat behaal is sluit die volgende in: Benewens verskeie eerste pryse in verskillende kategorieë tydens die Tweejaarlikse Nasionale Uitstalling, is drie keer die sogenaamde “Best on Show” en in 2008 die toekenning vir “Best art quilt on show” ontvang. Internasionale erkenning is in die vorm van Honourable Mention, Best innovative variation of a traditional pattern en Best overall composition ontvang. Ek het aan verskeie gekeurde nasionale en internasionale groepsuitstalling deelgeneem: Innovative Threads (Kaapstad); Museum Afrika (Gauteng); NSA Art Gallery (Durban); Tatham Gallery (Pietermaritzburg); Musée de Tissus in Lyon en Créations in Parys, Karlsruhe en Kanada. Werke is aanvaar vir reisende uitstallings in Europa, Japan en Kanada. Afdrukke van werke het verskyn in verskeie Amerikaanse, Europese en Japanese kwilt- en tekstieltydskrifte. Verskeie tekstielbehangsels is al deur privaatversamelaars en korporatiewe instansies aangekoop.
PROJEK
Titel | Boom van my lewe |
Medium | Tekstiele gebruik: Kommersiële katoen, katoenmengsels, handgeverfde glanskatoen, herbedrukte en stoffeermateriaal, plastiek; aanstrykwatteersel; katoen- en metaalgaring. Tegnieke: Vryhandknip en -sny. Masjienstikwerk: enkelnaatmetode en rafelrandappliek; hand- en masjiengekwilt op ‘n Bernina-naaimasjien. |
Afmetings | 12 tekstielbladsye van 490 x 700 cm elk |
Uitgawe | Een kopie van elk |
Prys | As geheel: R60,000.00 / ‘n Enkele werk: R5,500.00 |
Die “boek” vergestalt op ‘n visuele manier my subjektiewe arvarings van ‘n prostaktektomie wat ek in 2009 ondergaan het. Omdat ek in my tekstielwerk bome as tema gebruik, word die boom as metafoor gebruik om die ervarings te verbeeld. Die uitdaging het daarin gelê om intieme subjektiewe ervarings op ‘n visuele wyse te kommunikeer sonder om ‘n te persoonlike grafiese voorstelling daaraan te gee. Die boom as metafoor help met die objektiveringsproses en selfs “verfremdung”/ vervreemding, om Brecht se term te gebruik. Soms is die perspektief van ver waar die boom volledig die idee vergestalt en soms word daar van baie naby ingefokus binne-in die “boom/tak/blaar” soos daar inderdaad binne in my liggaam gesny is. Vertikale lyne in verskillende vorms is as dominante “leitmotif” gebruik terwyl kleursimboliek en tekstuur (werklik en bloot visueel) ‘n belangrike rol speel.
Elke bladsy word vergesel met ‘n teks wat met die visuele aspek in interaksie is. Sekere ervarings word verbaal verwoord en ander weer in die tekstielwerk visueel/nieverbaal uitgebeeld. Sommige ervarings/emosies word eksplisiet uitgebeeld en ander weer subtiel gesuggereer. Elke werk poog egter om ook in eie reg met estetiese integriteit te bestaan. Dank aan die digter Heilna du Plooy vir die poëtiese omdigting van my teks.
BEELDMATERIAAL


