Richardt Strydom & Jaco Burger
BIOGRAFIE
Richardt Strydom is ʼn praktiserende kunstenaar en ook ʼn dosent in Grafiese Ontwerp by die Noordwes-Universiteit. In sy kuns ondersoek Strydom die grense van kulturele en kunstradisies. Hy het deelgeneem aan verskeie nasionale en internasionale kuns- en ontwerptentoonstellings. Onlangse voorbeelde sluit Design of Dissent, School of Visual Arts, New York en die Payne Gallery, Pennsylvania, VSA; BoereKitsch, KKNK (onder kuratorskap van Gordon Froud) en Sasol New Signatures, by die Pretoriase Kunsmuseum in. Strydom het ʼn aantal toekennings verwerf, onder andere ʼn ABSA l’Atelier Merietetoekenning (1997), ʼn Sasol New Signatures-Merietetoekenning (1997) en is ook aangewys as die algehele wenner van die Sasol New Signatures-kompetisie in 2008. Hy was medekurator (2004 - 2005) en kurator (2006 - 2008) van die Aardklop-Nasionale Kunstefees se visuele kunsteprogram.
Jaco Burger is ‘n vryskutontwerper, tipograaf en illustreerder. Hy verwerf die graad BA (Hons) in Grafiese Ontwerp by die Noordwes-Universiteit in 2009. Hy het twee Pendorings gewen vir digitale en drukgebaseerde projekte in 2008 en 2009, en was ‘n Loeriefinalis in 2009. Hy het ook lidmaatskap ontvang van die ISTD (International Society of Typographic Designers) met ‘n merietetoekenning in 2009. Hy is tans ‘n deeldtydse grafiese ontwerpdosent by die Noordwes-Universiteit en bestuur ook ‘n ontwerpateljee, Both, met Helene Botha. Hy is verder besig om lettertipes te ontwikkel vir ‘n opkomende Suid-Afrikaanse tipografiehuis.
PROJEK
Titel | Ad Hominem |
Medium | Gemengde media |
Afmetings | 166 mm x 250 mm |
Uitgawe | Uniek |
Prys | - |
Die algemene beskouing is dat die “kultuur van geweld” wat endemies aan Suid-Afrika is, ‘n normatiewe eienskap van ons samelewing geword het en dat geweld dikwels gesien word as ‘n toepaslike middel tot ‘n doel.
Smith (1993) stel dat, “individuals, feeling powerless or helpless in the face of dramatic social and economic upheaval, frequently symbolically reassert their power through violence in those dimensions of their lives in which they still feel they hold sway. This results in much aggression which, although social or political at root, is expressed through displaced violence within the family and in the home”.
Die verwerping deur heelwat Afrikaners van hierdie nasionalistiese mite is opgeneem in die geskiedskrywing van die laat twintigste eeu. Die skeeftrekking, diskriminasie en geweld van die Apartheidsideologie het nie ruimte gelaat vir Afrikaners om ʼn eie outentieke identiteit vas te lê nie – dié erfenis se oorhoofse tema is ʼn etniese skuldgevoel wat onderstreep word deur kulturele masochisme. Kulturele masochisme ontspring uit aktiewe haat jeens kulturele instellings wat dikwels gesien word as onontkombaar. Heelwat van dié soort haat groei uit die erkenning van magteloosheid teen die werking van hegemoniese kultuurpraktyke. In ʼn poging om hegemoniese norme omver te werp mag ʼn persoon andere se meegevoel of aandag oproep deur die openbare of private oorskryding van samelewingsnorme.
In die lig hiervan ondersoek ons die moontlikheid van die self as Other en other. In hierdie konteks word die projeksie van die self ʼn spieëlrefleksie. Die dubbelsinnige subjekposisie van self as other het angs ten opsigte van identiteit tot gevolg. Strydom doen aan die hand dat, as ʼn eietydse wit Afrikaan van Afrikaanse herkoms, hierdie gedagte versterk word deur die bagasie van ʼn gekonstrueerde kultuurgeskiedenis wat deurspek is met paranoia en masochisme, wat ook die teleologie van kultuur ondermyn.
BEELDMATERIAAL





