Jongste nuus
colloquium en projekkatalogus
Verskeie kunstenaars en akademici het 14 en 14 Julie 2011 aan colloquium van die kreatiewe navorsingsprojek, “Oor die Einders van die Bladsy”, op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit deelgeneem. Vanjaar word gewy aan die skryf van navorsingbevindings, referate, artikels en kongresse en die colloquium was die ideale geleentheid om oor die projek te reflekteer en oor die navorsing te gesels. 'n Projekkatalogus is ook tydens die colloquium bekendgestel. Wessie van der Westhuizen (grafiese ontwerp) was verantwoordelik vir die ontwerp en uitleg van die gedrukte katalogus. Jaco Burger het die digitale katalogus ontwerp. Die katalogus is teen R200 beskikbaar en kan by Franci Greyling bestel word.
Drie van die projekleiers en redakteurs van die katalogus tydens die colloquium. Van links is Louisemarie Combrink (kunsgeskiedenis), proff Jan Swanepoel (dekaan van die fakulteit Lettere en Wysbegeerte), Franci Greyling (skryfkuns) en Ian Marley (grafiese ontwerp).
FADA-GALERY, UNIVERSITEIT VAN JOHANNESBURG
Oor die einders van die bladsy-uitstalling by die FADA-galery, Fakulteit vir Kuns, Ontwerp en Argitektuur, Universiteit van Johannesburg, Buntingweg Kampus, Aucklandpark (tussen SABC en Egoli Gas) 12 tot 23 Julie. Opening Woensdag 14 Julie om 18:00. Die openingspreker is Jack Ginsberg.
NWU - POTCHEFSTROOMKAMPUS
Die Oor die einders van die bladsy-uitstalling kan tans by Die Galery van die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus besoek word tot 13 Mei 2010. Die Galery tye is: Maandag tot Vrydag, 10:00 - 16:00 en toegang is gratis.
WOORDFEES 2010
Die Oor die einders van die bladsy-uitstalling by die afgelope Woordfees het heelwat belangstelling uitgelok. Besoekers het veral kommentaar gelewer oor die groot verskeidenheid boeke, individuele benaderings en media. Om die kroon te span is beide die Woordfees-Toekennings vir die Visuele Kunste aan kunstenaars uit die Einders-projek toegeken. Richardt Strydom en Jaco Burger - vir Ad Hominem - is as hoogstaande visuele kunstenaars vereer, met Diane Victor in die tweede plek. Dit is die eerste keer dat die WOORDtroFEES by die Woordfees toegeken word.
WOORDFEES 2010
Die uitstalling Oor die einders van die bladsy, vorm deel van ’n kreatiewe projek en transdissiplinêre ondersoek na die kunstenaarsboek en praktykgebaseerde navorsing. (Transgressions and boundaries of the page: a transdisciplinary exploration of a practice-based research project by means of the artist’s book.)
Die projek behels dat ongeveer 40 kunstenaars (skrywers, beeldhouers, grafiese kunstenaars, en persone uit verwante rigtings soos argitektuur en taaltegnologie), kunstenaarsboeke maak.
Hierdie boeke word in ’n groepsuitstalling opgeneem wat in 2010 by die Stellenbosch Woordfees uitgestal word. ’n Kunstenaarsgesprek asook ’n werkswinkel oor kreatiewe navorsingsprojekte word as deel van die projek en Woordfeesprogram aangebied.
Uitstalling
Titel: Oor die einders van die bladsy
Plek: Africana-kamer van die Gericke-biblioteek
Datums: 1-6 Maart 2010
Aard: Groepsuitstalling van kunstenaarsboeke
Toegang: Gratis
In die groepsuitstalling Oor die einders van die bladsy, word kunstenaarsboeke van ʼn uiteenlopende verskeidenheid kunstenaars en skrywers uitgestal.
Die uitstalling demonstreer dat kunstenaarsboeke die ideale medium om kunstenaars uit verskillende dissiplines by die spel met en ontdekking van die moontlikhede van die boek te betrek. Die verskeidenheid boeke sal gewis ook die ‘lesers’ uitnooi om die boek te herontdek en die grense daarvan te verken.
Hierdie uitstalling vorm deel van ’n transdissiplinêre kreatiewe en navorsingprojek van die Noordwes-Universiteit.
Skrywers/kunstenaarsgesprek
Titel: Oor die einders van die bladsy – kunstenaars in gesprek
Plek: Ouditorium van die Gericke-biblioteek
Datums: 4 Maart 2010
Tyd: 14:00-15:00
Aard: Rondetafelgesprek
Toegang: R40 (Computicket)
In die groepsuitstalling, Oor die einders van die bladsy, in die Africana-kamer van die Gericke-biblioteek word ʼn groot verskeidenheid kunstenaarsboeke vertoon.
Hierdie boeke is die resultaat van ʼn kreatiewe uitdaging wat aan ʼn veertigtal uiteenlopende kunstenaars gestel is, naamlik om hul eie interpretasie van die boek/kunstenaarsboek aan die hand van die tema te maak.
In die gesprek gesels vyf van die kunstenaars met mekaar oor die projek, die kunswerke en hoe elkeen van hulle die uitdaging aangepak het. Die gespreksgenote is die projekleiers Franci Greyling (skrywer) en Ian Marley (kunstenaar), Danie Marais (digter), Strijdom van der Merwe (landkunstenaar) , Jo-Marie Rabe (kultuurhistorikus) en Kabous Meiring (regisseur/skrywer). Gespreksleier: Kabous Meiring.
Die uitstalling vorm deel van ’n transdissiplinêre kreatiewe en navorsingprojek van die Noordwes-Universiteit. Die doel van die projek is onder ander om kunstenaars en navorsers uit verskillende dissiplines by navorsing oor die praktyk te betrek.
Werkswinkel/bespreking
Titel: Kreatiewe navorsingsprojekte: hoe is dit moontlik?
Plek: Ouditorium van die Gericke-biblioteek
Datums: 4 Maart 2010
Tyd: 15:00-16:30
Aard: Inligtingsessie en bespreking
Toegang: gratis
Kunstenaars is dikwels betrokke by interdissiplinêre kreatiewe projekte soos tematiese groepsuitstallings, podiumpoësie en “performance art”. Hierdie projekte word egter selde as navorsingsgeleenthede gekonseptualiseer of benut. Kreatiewe praktyk as navorsing word toenemend as navorsingmetode erken wat dit moontlik maak om navorsingsmoontlikhede van sulke projekte te ontgin.
Die uitstalling, Oor die einders van die bladsy, demonstreer hoe kreatiewe werk en navorsing vindingryk gekombineer kan word. Hierdie projek het gevolg uit die sukses van ’n vorige soortgelyke projek, Op die spoor van kreatiewe kreature.
In die bespreking gesels Ian Marley en Franci Greyling, die projekleiers van hierdie transdissiplinêre kreatiewe en navorsingprojek, oor die uitdagings en moontlikhede van praktykgebaseerde navorsing. Met bogenoemde twee projekte as voorbeelde gesels hulle oor aspekte soos kreatiewe groepsdinamika, projekstrukture, projekbeplanning en deel hulle praktiese wenke oor hoe om kreatief in ʼn navorsingsomgewing te oorleef.
Oor die einders van die bladsy: ’n transdissiplinêre ondersoek van ’n praktykgebaseerde navorsingsprojek deur middel van die kunstenaarsboek word as navorsing onderneem in die Navorsingseenheid: Tale en Literatuur in die SA Konteks, Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.